SA Die Mooiste Land
Suid Afrika is vir my die mooiste land in die hele wêreld!
Elke stukkie natuur het sy eie bekoring… ek geniet dit baie om by die suidkus van Kwazulu Natal te gaan kuier. Die reuk van die sout see-lug en die gedruis van die magtige see altyd in die agtergrond wat elke greintjie van stres en bekommernis laat weg kwyn. Dan nie eens te praat van die pragtige blou lug en groen plante nie – dit is werklik pragtig.
Die Kaap is maar net mooi met berge en see wat soos legkaartstukke in mekaar pas om ‘n landskap te vorm waar ‘n mens tussen hierdie enorme stukke deur kan kronkel wat oortrek is met eiesoortige fynbos en plante. Die pragtigste tuinroetes en die uitsig vanaf die berge wat enige mens sal laat snak na asem.
Daar is niks soos die bosveld nie! Die doringbome en bosse die plat grasvlaktes met hier en daar ‘n klipkoppie sal altyd aan my hartsnaar trek. Die karoo is ‘n uitsig van verlange en nostalgie wat deur Niemansland seker die beste beskryf word.
Die Drakensberge en die Soutpansberge wat die horison vorm so ver soos die oog kan sien en oortrek is met grasvelde, bome, sandsteenkranse en rotsformasies. Watervalle en glashelder poele wat verfrissing bring deur net daarna te kyk…
Daar is niks soos ‘n reën storm wat oor die vlaktes van die ou Westransvaal aan gestorm kom nie. Die wind wat eers saggies oor jou streel en met jou hare speel en dan al sterker en vinniger waai en jy voel dat jy saam met dit oor die vlaktes gaan uitbars…
Dit is maar net ‘n stukkie van die bekoring wat ons land bied, maar dit sal my altyd nader aan my Skepper bring omdat net Hy die enorme legkaartstukke inmekaar kon pas om so ‘n wêreld tot stand te bring…
‘n Psalm van Dawid. Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte! Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad!
Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters. Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid. Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Libanon; en Hy laat hulle opspring soos ‘n kalf, die Libanon en Sirjon soos ‘n jong buffel. Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit. Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe. Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid! Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid. Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.
(Psalms 29:1-11.)
Dankie Nikita!
LikeLike
Pragtige inskrywing, jy sal my inskrywing dalk ook dan geniet. Ek stem volkome saam met jou hier. Jy het ‘n wonderlike webbladsy! Sterkte met jou werk van die Here.
LikeLike
Dankie minelli,
Ja beslis meer dae buite spandeer in hierdie amper mooiste tyd van die jaar…
LikeLike
Wat ‘n pragtige post en blog! My eerste kuiertjie hier maar ek sal beslis gereeld ‘n draai kom maak. Ek stem so saam met jou dat daar geen ander plek is om die Skepper te ervaar soos juis in sy skepping nie. Nuwe voorneme: Minder tyd naweke binnenshuis en meer tyd buite spandeer, veral met hierdie pragtige hersfdae!
LikeLike