Ons wêreld word so elke nou en dan geskud oor hierdie “Man” Jesus. Onlangs het die Pous van die Roomse Katolieke Kerk genoem dat Jesus ‘n fout gemaak het of moontlik dronk was toe Hy gesê het Hy kom weer terug, omdat meer as 2000 jaar verby is sonder Sy terugkeer.
Ons moet glo dat Jesus die Here en Verlosser is, maar die verwarring wat geskep is deur woorde soos die van die Pous het die ware betekenis van Sy lewe uitgedoof.
Jesaja het hom beskryf as Wonderbaar, Raadsman, Almagtige God, Ewige Vader, Vredevors (Jesaja 9:6). Johannes het geskryf dat Hy met God was in die begin (Johannes 1:1-4), Hy is die Woord wat mens geword het (Johannes 1:14), Hy is die Lig van die Wêreld (Johannes 1: 4-5; 9: 5), Hy is die Goeie Herder (Johannes 10:14) Hy is die Weg, die Waarheid, die Lewe (Johannes 10: 9), die Brood van die Lewe (Johannes 6:35) en die opstanding (Johannes 11:25-26). Paulus beskryf hom as die Hoof bo alle dinge (Filippense 2:9-11), Middelaar tussen God en die mens (1 Timoteus 2:5) en die beeld van die onsienlike God (Kolossense 1:15-17). Lukas noem Hom die Gesalfde van God (Lukas 4: 18-19) en Geneser (Lukas 5: 22-25).
Tog beteken hierdie woorde vir ons niks as ons dit nie glo en ons eie maak nie. Ons moet streef om soos Jesus te wees en glo wat die Bybel sê van Die Heilige Gees, van Jesus en van God die Vader.
Die Israeliete het God geken as “Die God van Abraham, Isak en Jakob” en hulle het presies geweet wie Hy is en wat Hy vir hul gedoen het. As hierdie woord dus vir jou ook leeg is en geen betekenis het nie, het jy die waarheid van Jesus verloor of nooit geken nie.
Vra dan gerus “Wie is Hy nou eintlik?”
Ken jy God en Jesus werklik?
Het “Die God van Abraham, Isak en Jakob” enige betekenis vir jou?
Die Israeliete het hom so geken en presies geweet dat Hy:
die Skepper van alle dinge is,
die Verlosser van die wêreld is,
die God is wat vir Abraham ‘n seun op die ouderdom van’ n 100 jaar gegee het,
die God is wat Isak en Jakob se families gered van hongersnood,
die God is wat Sy volk uit Egipte gered het,
die God is wat Sy volk deur die Rooi See geneem het,
die God is wat Sy volk deur die woestyn gelei het,
die God is wat Sy volk deur die Jordaan rivier geneem het,
die God is wat Sy volk in die seëninge en beloftes wat Hy vir hul gehad het ingelei het…
Hierdie woorde beeld God se grootheid en almagtigheid uit en is saamgevat in Sy naam, “Die God van Abraham, Isak en Jakob” wat sy volk in verwondering en bewondering gebring het, en daarom aanbid hulle Hom vir wie Hy is.
Jy moet dit van God vir jouself ontdek, dit wat die wêreld laat stil staan om jou as jy net daaraan dink. Dit maak jou bewus van Sy heerlikheid en almagtigheid, en skreeu Sy liefde en beskerming en Sy genade en waarheid uit diep in jou binneste, dit wat Hom ‘n werklikheid vir jou maak…
Ons kan nog steeds vra “Wie is Hy nou eintlik”
Om Hom werklik te ken en te verstaan sal jy in verhouding met Hom moet wees.
Die storie van die Pous was nou nie waar nie, maar ń verdraaiing van wat hy gesê het. Die verteenwoordiger wat kastig die verdraaide storie aan die pers oorgedra het bestaan nie eers nie. Tog het hierdie storie soos ń veldbrand versprei.
As gebeure soos die ons pla en omkrap as Christene wat beteken dit dan?
Dit is nie werklik ń maatstaf wat jy kan gebruik om te sê dat jy in verhouding met Hom is nie. Volgens die Bybel is verhouding ń ooreenkoms wat gesluit word tussen twee partye. Byvoorbeeld tussen jy en jou man met wie jy getroud is, daar is ń wetlike ooreenkoms wat gesluit was om jul verhouding te bevestig. Net so moet ons in verhouding met Hom gaan volgens ń wetlike ooreenkoms. Die voorskrifte van hierdie ooreenkoms vind ons in die Bybel en moet dus deel word van ons verhouding met Hom. Dus om in verhouding met Jesus te wees moet ons ook kies om dit te doen volgens die voorskrifte van hierdie ooreenkoms.
Gebed:
Heilig en Almagtige Vader,
Heerlike en wonderlik is U Naam!
God, ek het U nodig,
Maak oop my oë, my ore, my gedagtes, my hart,
Sodat ek mag weet, verstaan en begryp,
Dat ek meer en meer van U kan sien en hoor.
Kom openbaar Uself aan my daagliks,
Wees vir my ‘n tasbare God,
‘n God wat vir my eg is …
Wees my God en Verlosser vandag.
Ek bid in Jesus Naam.
Amen
Hoe jammer dat die skrywer nie ‘n beter poging maak om die vraag te beantwoord nie. Dit is ‘n interessante onderwerp, een wat dikwels nie genoeg aandag kry nie.
Wie is Jesus Christus nou eintlik?
Was hy, soos Reza Aslan beweer, ‘n Joodse vryheidsvegter en wandelende geloofsgeneesheer?
Richard Carrier maak nogal ‘n oortuigende argument dat Jesus dalk as ‘n mitologiese figuur onstaan het, en dat hy eers later as histories beskryf is.
Hoe kan ‘n mens die waarheid uitvind?
Gestel ons weet nie enigiets oor Jesus nie. In ‘n poging om uit te vind wie hy nou eintlik is, kan ons die beskikbare bewyse ondersoek. Daar is geen argeologiese bewyse wat hoegenaamd aan ‘n regte historiese Jesus verbind kan word nie. Dit is nie juis verbasend nie, maar dit beteken wel dat die enigste inligting wat ons het, uit die geskrewe rekord kom.
Die vroegste tekste wat Jesus noem is Paulus se briewe. Dit het my onkant gevang die eerste keer wat ek dié idee teëgekom het, maar dink ‘n bietjie: Paulus praat nie oor Jesus as ‘n mens nie. Sy bekering word veroorsaak deur ‘n visie, en elke keer as hy vir die gemeentes iets namens Jesus sê, is dit aan hom openbaar. Hy gaan soek nie die oorspronklike apostels om by hulle te leer nie. Die tradisionele tydlyn sou beteken dat hy nog heelwat ooggetuies sou kon vind in Judea, maar daar is geen sprake dat hy dit probeer het nie.
Nie-bybelse tekste wat aangehaal word as bewys van Jesus se bestaan is óf duidelik vervals óf beskryf die Christus-beweging, eerder as Jesus, met ander woorde dit bewys dat Christene bestaan het, maar nie noodwendig dat Christus ooit bestan het nie.
Die evangelies is dus die enigste ander bron wat ons enigiets oor Jesus vertel. Markus word beskou as die oudste van die evangelies, waarskynlik geskryf in c.AD 66–70, moontlik later. En daardie woorde is die enigste inligting wat ons het. Die ander evangelies is waarskynlik eers later geskryf, en geen van die spesifieke gebeurtenisse wat hulle beskryf kom in ander historiese bronne voor nie.
Wie is Jesus Christus nou eintlik? Ek weet nie. Kan enigiemand eerlik sê dat hulle weet?
LikeLike