Ons sê maklik dat die ”aanhouer wen”, maar tog as dit by ons geloof kom gee ons so maklik op.
Ons vra God vir inspraak en hulp, maar ons is halfhartig in die uitvoer en uitleef van wat ons glo. Hierdie halfhartigheid staan in werklikheid in die pad van volkome vryheid, sukses, seën, vervulling en oplossing (2 Konings 13:17-19).
Verder sê hy: Neem die pyle. En hy het dit geneem. Toe sê hy vir die koning van Israel: Slaan teen die grond! En hy het drie maal geslaan en opgehou. Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan (2 Konings 13:18-19).
As ons dan kies om in volle oorgawe te lewe in dit wat ons glo en vanaf God ontvang, word ons in staat gestel om lewe, seën, vervulling, oplossing en wat ook al nodig is te spreek in elke situasie, ervaring, probleem en verwoesting wat in ons persoonlike lewe, in die lewe van ander mense en in ons land is (Jesaja 55:9-11). Ons sal dan soos Eségiël lewe kan spreek oor die dooie of verwoeste situasie (Eségiël 37:1-14).
God gebruik nie volmaakte mense nie, anders sou Hy slegs vir Jesus kon gebruik het. Hy gebruik onvolmaakte mense wat kies om in volle oorgawe tot Hom te lewe.
Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie. Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge (Jeremia 17:7-8,10).