Maak verhoudings jou ook soms seer? Het jy al gevoel jy wil net weghardloop?
Iemand het ‘n hele tydjie gelede vir my gesê “Ek het nog nooit aan egskeiding gedink nie, maar moord, baie”!
Dit is gewoonlik die mense die naaste aan jou wat jou die seerste maak. Dit is nie net die hartseer nie, maar dit is die teleurstelling, die verwerping, die skok en ander emosies wat soos ‘n golf oor jou spoel en jou voete totaal onder jou uitslaan. Jy het geen krag, energie of woorde nie en dit voel net te veel om met enige iemand hier oor te praat, wat nog van die persoon wat dit alles veroorsaak het. Die ergste van alles is dat sy of hy glad nie die inpak van die woorde en of dade wat jou voet onder jou uitgeslaan het werklik kan begryp nie. Die situasie se gebeure was dalk bedoel om seer te maak, of dalk glad nie, maar jou belewenis daarvan het vir jou die enigste realiteit geword.
Dit is dus baie moeilik om met die persoon te praat wat jou seergemaak het, veral as die erns van die saak nie verstaan word nie. Die beste plek vir jou om te begin is verwoording. Skryf jou emosies neer. Onthou dat pyn en woede nie die enigste emosies kan wees nie. Dink aan die teleurstelling en skok terwyl jy jou emosies neerskryf wat jy ervaar of ervaar het. Jy moet dan vir die persoon jou ervaring van die situasie verduidelik sonder om aan te kla of aan te val.
… My man, ek het heeltemal gedrop gevoel toe jy dit en dit gesê het en dit het my ook baie hartseer en woedend gemaak…
Jy moet dan ook noem dat hy of sy dit nie noodwendig so bedoel het nie, maar dit wel vir jou ‘n slegte ervaring was. Die volgende stap is dan om te vergewe.
… Ek vergewe jou, al is my emosies nog deurmekaar…
Die goue reël van Christenskap is liefde wat fyn verweef is deur die hele Bybel. Jesus moedig jou aan om hierdie goue reël uit te lewe, deur vir God lief te wees met jou hele wese, vir jouself lief te wees, om ander mense lief te hê en aan hulle te doen soos jy sou wou hê hulle moet aan jou doen.
Ek bid dat jy positiewe ervarings in jou verhoudings sal hê en dat enige seer en misverstande op gesonde wyses opgelos sal word.
Amen
Dankie
LikeLike