Ons wêreld val uitmekaar en elkeen moet net alles in sy of haar vermoë doen om te oorleef en om alles wat na ‘n mens gegooi word te kan hanteer. So word die lewe net ‘n gejaag na wind, soos Prediker ons leer. Oorlewing is nie ‘n doel nie, maar ‘n valse sekuriteit wat ons mense net besig hou met hul eie probleme en omstandighede. So word ons mense dom en onsensitief en verloor hulle die vermoë om werklik deel te neem aan die lewe. Hulle kan nie meer nuwe dinge leer of korrek verwerk nie, want die filter van die eie ek verhoed dit. So sukkel hulle want intimiteit, liefde, vrede en vreugde is nie meer deel van hulle lewens nie. Hulle karring maar net voort sonder om die lewe te verstaan of te geniet.
Ons lees in die Bybel (Psalms 37:4) dat vertrou in die Here ‘n sleutel is tot baie dinge, dit maak ons sterk en gee ons krag tot goeie werke, dit stel ons in staat om bo alle omstandighede uit te sweef (Jesaja 40:31) en om te heers oor alles.
Om hierdie sleutel van vertroue te bekom moet ons eers ‘n ander waarheid ons eie maak. God ken elkeen van ons en het ons lief met ‘n onvoorwaardelike liefde. Wanneer ons hierdie waarheid met ons hele wese aanvaar ontvang ons die sleutel van vertroue in die Here.