Hoop in ‘n hopelose wêreld… Te veel mense het hierdie jaar hoop verloor, omdat ons fokus verskuif het na honderde of selfs duisende ander dinge inplaas van Jesus Christus. Ek het vanoggend weer hierdie boodskap vanaf Christ Alone Ministries gelees en gedink dat meer van ons mense nodig het om Hom (Jesus Christus) ons fokus en dan ook ons hoop te maak:
ONS HOOP IS JESUS CHRISTUS ALLEEN
By talle geleenthede het ek gehoor dat mense sê dat ons hoop in Jesus Christus is. En hoewel dit net ‘n fout kan wees, kan dit verrykende gevolge hê, want ons hoop is nie in Christus nie, maar ons hoop is Jesus Christus. Hoop is nie iets wat Jesus gee nie, maar hoop is ‘n deel van wie Jesus is.
Baie mense het in die laaste tyd hoop verloor. Baie voel hopeloos in hierdie hopelose tye waarin ons leef. Maar sou ons vanuit ‘n Bybelse perspektief kyk, sal ons sien dat hierdie “hopeloosheid” ‘n teken is van wat ek “Christusloosheid” wil noem. In Efesiërs 2:12 sien ons dat daar ‘n tyd was dat hulle sonder Christus was. Later in dieselfde skrif staan dat hulle sonder hoop en sonder God was. Sonder Christus beteken dan ook dat hulle sonder hoop was.
Paulus skryf aan Timoteus en verwys na ons Here Jesus Christus as ons hoop. (1 Timoteus 1: 1) Aan die Kolossense skryf Paulus van Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. (Sien Kolossense 1:27) Titus verwag die salige hoop in Titus 2:13.
Hoe word ons dan hoopvol of hoe word ons hoop herstel? Jesus Christus is ons hoop. Daarom, deur Christus in ons toe te laat om Homself in ons te openbaar, sal ons nie net hoopvol wees wanneer ons moeilike tye tegemoet gaan nie, maar ons sal ewig-blywende en steeds groter wordende hoop hê.
Die Woord sê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.” (Johannes 14:1) Laat ons nie sonder hoop bly nie, maar laat ons Hoop (ons Here Jesus Christus) permanente verblyf gee en binnekort sal ons nie net lig aan die einde van die tonnel sien nie, maar ons sal omring word deur die lig, wat ons Here Jesus Christus is. (Johannes 9: 5)
Keith Getty en ander het die lied “Christ Our Hope in Life and Death” geskryf. In vers een vra hul: “What is our hope in life and death?” en dan antwoord hul: “Christ alone, Christ alone.” Adrienne Camp het die lied “In Christ Alone” gskryf. In die eerste reël vind ons ‘n groot waarheid: “In Christ alone my hope is found”
Laat ons die Here van hoop, wat nie hoop gee nie, maar wat hoop is, toelaat om ons hopeloosheid te verander in ‘n hoopvolle lewe en ‘n hoopvolle toekoms. Laat ons Jesus Christus ons enigste hoop in ons lewens toelaat, om van binne te regeer.
Groete,
Johan Terblanche
Christ Alone Ministries
One thought on “HOOP?!”