Ons land se reëls en regulasies is so min Suid Afrikaans as wat jy kan kry. Die opstellers daarvan was internasionaal en het geen idee gehad wat Suid Afrikaans is nie. Ek voel dat Suid Afrikaans tog in onsin weerspieël moet word, al is ons ‘n redelike nuwe Suid Afrika.
Ek het lank terug gesê dat iemand ‘n boek moet skryf getitel “Hoekom ubuntu Suid Afrika verlaat het saam met apartheid”. Ubuntu is ‘n Afrika term vir ‘n kwaliteit wat die noodsaaklike menslike deugde insluit soos deernis en menslikheid. Dit kommunikeer die belangrikheid van gemeenskaplike verhoudings, respek, gemeenskap, waardes en verantwoordelikhede netjies verpak in godsdiens. Dit verteenwoordig eenheid, want ‘n persoon is slegs ‘n persoon deur die gemeenskap. Dit beteken dat die gemeenskap jou ouer, leermeester, vriend en ondersteuning is. Ja, en daar is dit, ons mense soek vryheid om te doen wat hulle wil en hoe minder reëls en regulasies daar is hoe beter, hul wil nie deur ander iets geleer of gesê word nie. Ek verstaan ware vryheid as volle kennis, aanvaarding en besitneming van die reëls en regulasies. Vrees en frustrasie kom waar hierdie ware vryheid ontbreek.
As Christene word ons geroep tot ubuntu – Jesus en Paulus het baie gepraat van die gemeenskap van gelowiges. Ons moet as een liggaam kan funksioneer en Jesus as ons hoof kan aanvaar, respekteer en gehoorsaam. Ubuntu is dalk ‘n Afrika term, maar dit kom vanaf die Joodse leringe wat na Etiopië versprei het gedurende die tyd wat Salomo koning van die Jode was. In latere jare het dit verder en verder suid versprei tot in Suid Afrika en Lesotho.
Ek was bevoorreg gewees om in die platteland groot te word waar gemeenskap belangriker was as in die stad en het geleer van die rol wat gemeenskap speel. Ons is almal aanmekaar gekoppel, die een aan die verbind. Ek sê altyd aan my leerders dat dit wat jy in die donker onder jou bed doen jou verhouding met ander om jou beïnvloed.
Gemeenskap is belangrik en huidiglik wil niemand dit erken nie, maar dit is besig om meer en meer uit te rafel, huisgesinne val uitmekaar en meer kinders as ooit vantevore raak verlore in die samelewing (of is dit nou alleenlewing). Ek besef dat die hele samelewing nie ‘n perfekte eenheid kan vorm nie, maar as kinders van God kan ons daarna streef. As elkeen van ons ons verhouding met God as die belangrikste in ons lewens beskou sal dinge reeds verander. Wanneer ons by God wil wees, Hom wil aanhang, afhanklik van Hom wil wees, lief vir Hom wil wees, Hom wil geniet, Hom wil behaag, dan het ons Hom lief met ons hele wese, bly ons in Hom, bly ons in Sy liefde, bly ons in Christus en is ons vervul met Sy Gees (geïnspireer deur Rebecca se skrywe). Omdat God ‘n hart het vir alle mense glo ek dat sosiale geregtigheid binne-in ons liefde vir God verborge is. Dus gee ons om vir ander mense, die vernederde, die verlore, die uitgelate, ons naaste, omdat ons God liefhet. Hierdie liefde word dan ook deur ons dade en woorde sigbaar. Sodoende kan ons die gemeenskap herstel wat besig is om uitmekaar te val.
Matthéüs 22:34-40, Johannes 15:7