Intimiteit en Aanbidding


Om werklik intiem te wees verg innerlike nabyheid. Intimiteit is gedetailleerde, innerlike, naby, bekend en persoonlik. Ons moet intiem raak in ons wandel met God.

Dit is nie moontlik om ware intimiteit te beleef sonder aanbidding nie. Ware intimiteit bring ware aanbidding. Hoe dieper jy groei in jou aanbidding van God, hoe meer word intimiteit deel van jou aanbidding en hoe meer intimiteit groei, hoe dieper en meer standvastig word jou aanbidding.

In ons wandel met God leer ons dat ons Hom meer nodig het as enige iets anders.

We need God and oxygen, in that specific order.
(Luana Bekker)

Oswald Chambers het dit so verduidelik:

Dit is moontlik om alles te weet van die leringe van die Bybel, maar geen ware kennis te hê van Jesus nie. Ons siele is in gevaar wanneer ons kennis van leringe meer word as ons intieme kontak met Jesus. Waarom het Maria geween by Jesus se graf? Leringe het maar soveel waarde as die gras onder haar voete vir haar. Enige fariseër kon Maria as ‘n dwaas af gemaak het as dit alles net oor leringe gegaan het, maar hulle sal nooit haar ervarings met Jesus kon weg redeneer nie. Toe sy haar Here se stem hoor het sy dadelik geweet dat dit Hy is wat met haar praat.
My Utmost for His Highest (August 16) (Copyright © 1935)

Ons is totaal afhanklik van God en hoe gouer ons dit besef hoe beter…

…God designed the human machine to run on God Himself.
Mere Christianity (P.50 2002 Ed.)(Copyright © 1942)

Het jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus – ‘n intieme band, ‘n kennis en ‘n wete wat deur niks geskud kan word nie? Bring dit jou na ‘n plek van liefde, respek en aanbidding? Baie mense het nie en sal graag hul verhouding met Hom wil verdiep.

Intimiteit moet ‘n natuurlik uitvloei wees waar die bonatuurlike die natuurlike word, maar ons weet nie meer hoe om dit te laat vloei nie. Die wêreld waarin ons leef het ‘n koue en hard plek geword en daar is nie meer ruimte vir intimiteit of aanbidding nie.

Intimiteit is die proses waarin jy elke fyn detail van die lewe deel met iemand naby aan jou, en aanbidding is die manier waarop jy dit deel deur die persoon te respekteer en te eer. Elke verhouding bestaan uit hierdie twee aspekte wat inmekaar verweef is, en so ook moet ons dit laat ontwikkel in ons verhouding met God. Intimiteit moet dus gekoester word.

Die vroue geslag sal dit dalk beter verstaan dat intimiteit ontwikkel wanneer jy alles met ‘n persoon deel, die goeie, die slegte en die lelike. So ook moet ons leer om dit alles met God te deel en ons intimiteit met Hom te laat groei.

Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uitlê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie. Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer. Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saak maak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en waarvan Hy sal hou, dinge wat God sal sê goed is. Moenie julle tyd mors om aan allerhande nuttelose dinge te sit en dink nie. Hou julle besig met dinge wat die moeite werd is en wat God in ’n goeie lig stel. Ek stel mos vir julle ’n goeie voorbeeld. Ek het baie dinge vir julle vertel. Julle het baie by my geleer. Wat julle my gesien doen en gehoor sê het, moet julle net so doen en sê. God sal julle nie los nie. Hy sal by julle bly. By Hom sal julle veilig en gelukkig voel.
Ek en jy is tot alles in staat omdat God vir ons sorg. (Filippense 4:6-9 [DB]).

Tydens hierdie proses waardeer God jou nabyheid met groot respek hanteer, vertel Hy jou wie hy jou geskep het om te wees en jou liefde en respek vir Hom vloei oor in aanbidding.

Hierdie proses leer jou ook intimiteit en aanbidding in al jou ander verhoudings – ouers en kinders, mans en vroue, vriende en familie en skep ‘n atmosfeer van vertroue, respek, lojaliteit, eerlikheid en integriteit. Alle sleutel aspekte wat nodig is vir enige goeie verhouding.

Die lewe gaan nie oor kennis, krag of mag nie, maar oor verhouding. Ons het nodig om die eenvoud van hierdie geskenk (verhouding) in besit te neem en ‘n lewe te lewe waar ons alles rondom ons kan geniet. Wetende dat ons intimiteit en aanbidding se doel is om hierdie boodskap uit te dra aan almal wat nodig het om dit te hoor.

Ek bid dat jy ook so ‘n verhouding met Hom kan ontwikkel en dat jy net sal groei in jou intimiteit en aanbidding.

 

Lewer kommentaar